Esegiël 48:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die gebied word opsy gesit vir gewyde priesters, die nageslag van Sadok. Hulle was gehoorsaam aan My en het nie afgedwaal soos die mense van Israel en die res van die Leviete nie.

12. Dié grond is hulle spesiale deel van die heiligste gedeelte van die land. Langs die priesters se grond lê dié van die ander Leviete.

13. Die grond wat aan die Leviete toegedeel word, moet dieselfde grootte en vorm wees as dié wat aan die priesters behoort – ook dertien en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed. Saam is dié twee gedeeltes dus dertien en ’n half kilometer lank by tien en ’n half kilometer breed.

14. Dié spesiale grond mag nooit verkoop of verruil word nie, want dit behoort aan die Here. Dit is apart gesit om heilig te wees.

15. “’n Addisionele strook grond van dertien en ’n half by twee en ’n half kilometer wat oorbly, is bedoel as gewone stadsgebied, woongebied en weigebied. Die stad moet in dié gebied wees.

16. Die stad moet twee en ’n half vierkante kilometer wees.

17. Aan al vier kante moet daar ’n onbeboude strook van 130 meter wees.

18. “Buite die stad moet daar grond wees wat vyf kilometer oos en vyf kilometer wes van die stad strek, al langs die gewyde gebied. Hierdie grond moet bewerk word om kos te verskaf vir die mense wat in die stad werk.

19. Die mense wat in die stad werk, mag die grond bewerk. Hulle kom uit al die stamme van Israel.

Esegiël 48