Esegiël 45:20-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Doen dit ook op die sewende dag van die nuwe jaar vir almal wat per ongeluk of onkundig gesondig het. Op hierdie manier bring die tempel versoening.

21. “Op die veertiende dag van die nuwe jaar moet julle die Pasga vier. Die fees moet sewe dae aanhou. Julle mag in dié tyd net ongesuurde brood eet.

22. Daardie dag moet die regeerder ’n jong bul verskaf as sonde-offer vir homself en die volk van die land.

23. Op elkeen van die sewe dae van die fees moet hy ’n brandoffer vir die Here regmaak, wat bestaan uit sewe jong bulle en sewe ramme, almal sonder liggaamsgebrek. ’n Bokram moet ook elke dag as sonde-offer gegee word.

24. Die regeerder moet ook as graanoffer by elke bul en elke ram sestien kilogram meel aanbied, en vier liter olie by elke sestien kilogram meel.

25. “Gedurende die sewe dae van die Huttefees, wat elke jaar vroeg in die herfs gehou word, moet die regeerder sewe dae lank net soos met die Paasfees ook die sonde-offer, die brandoffer, die graanoffer en die olie aanbied.”

Esegiël 45