Esegiël 44:2-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie ingang moet gesluit bly. Dit mag nooit weer oopgemaak word nie. Niemand mag daar ingaan nie, want die Here, die God van Israel, het daar ingegaan. Dit moet altyd gesluit bly.

3. Net die regeerder mag binne hierdie ingang gaan sit om in die Here se teenwoordigheid fees te vier. Maar hy mag net deur die ingang se voorportaal kom en gaan.”

4. Die man het my toe deur die noordelike ingang na die voorkant van die tempel geneem. Ek het gekyk en gesien dat die heerlikheid van die Here die tempel van die Here gevul het. Ek het voor Hom neergeval.

5. Die Here sê toe vir my: “Mensekind, let goed op. Gebruik jou oë en ore. Luister sorgvuldig wat Ek vir jou sê oor die bepalings rakende die Here se tempel. Let goed op wie in die tempel toegelaat mag word en wie nie daar mag inkom nie.

6. Gaan sê vir hierdie opstandelinge, die mense van Israel, die oppermagtige Here sê: Volk van Israel, dis genoeg van julle afskuwelike dade!

7. Julle het vreemdelinge wat onbesnede is in my heiligdom gebring, mense wie se harte ver van My is. So het julle die tempel onteer terwyl julle terselfdertyd kos, vet en bloed aan My geoffer het. So het julle naas al julle ander afskuwelike sondes die ooreenkoms verbreek.

8. In plaas daarvan dat julle die tempeldiens reg uitgevoer het, het julle ander gehuur om dit vir julle te doen.

9. “So sê die oppermagtige Here: Geen vreemdelinge, ook nie dié wat tussen die mense van Israel bly, mag in my heiligdom kom as hulle nie besny is en die Here liefhet nie.

10. Die Leviete wat hulle rug op My gedraai het toe Israel van My weggedwaal het om afgode te aanbid, moet nou die gevolge van hulle ontrouheid dra.

11. Hulle mag tempelwagte en tempelbediendes wees, en hulle mag die diere slag wat as brandoffers geslag word en my mense help.

12. Maar hulle het my volk aangemoedig om afgode te aanbid sodat Israel in sonde geval het. Daarom het Ek ’n eed gesweer dat hulle die straf vir hulle sondes moet dra, sê die oppermagtige Here.

13. Hulle mag nie voor My kom om as priesters te dien nie. En hulle mag nie enige van die heilige voorwerpe of heilige offers aanraak nie. Hulle moet die skande dra van al die sondes wat hulle gedoen het.

14. Hulle mag in die tempel as bediendes werk om die tempel te onderhou en diens te verrig.

15. “Die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok het getrou in die tempel gewerk in die tyd toe Israel My vir hulle afgode verruil het. Daarom mag hulle voor My kom om My te bedien. Hulle mag in my teenwoordigheid staan om vet en bloed van offers te bring, sê die oppermagtige Here.

16. Net hulle mag in my heiligdom kom en voor my tafel gaan staan om My te bedien. Hulle voldoen aan al my bepalings.

17. Wanneer hulle by die ingang van die binneste hof ingaan, mag hulle net linneklere dra. Hulle mag nie iets van wol dra terwyl hulle aan diens is in die binneste hof of in die tempel self nie.

Esegiël 44