Esegiël 40:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op 28 April in die 25ste jaar van ons ballingskap, veertien jaar ná die val van Jerusalem, was die Here se hand op my.

2. In visioene het God my na die land Israel geneem en my op ’n hoë berg neergesit. Van daar kon ek iets sien soos ’n stad oorkant my, na die suidekant toe.

3. Soos Hy my naderbring, sien ek ’n man wie se gesig soos koper blink en wat by ’n hek staan. Hy het ’n maatband en ’n meetstok in sy hand gehad.

4. Dié man sê toe vir my: “Mensekind, kyk en luister aandagtig. Gee aandag aan alles wat ek vir jou wys. Jy het hiernatoe gekom sodat ek jou baie dinge kan wys. Dan kan jy na die mense van Israel teruggaan en hulle vertel wat jy alles gesien het.”

5. Ek sien toe ’n muur wat die hele tempelarea omring. Die man se meetstok was drie meter lank. Hy het die muur gemeet, en dit was drie meter breed en drie meter hoog.

Esegiël 40