10. Ek vermeerder die bevolking van Israel, en die stede sal weer bewoon en die puinhope herbou word.
11. En nie net julle mense nie, maar ook julle kuddes sal toeneem en baie word. Ek sal mense bring om weer daar te woon. Ek maak julle selfs nog meer voorspoedig as vroeër. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.
12. Ek sal sorg dat mense, my volk Israel, weer op julle loop, en julle sal hulle erfporsie wees. Julle sal hulle nooit weer kinderloos maak nie.
13. “So sê die oppermagtige Here: Die ander nasies spot met julle, berge van Israel. Hulle sê: ‘Israel is ’n land wat sy mense opvreet!’
14. Maar julle sal nooit weer julle volk en hulle kinders opvreet nie, sê die oppermagtige Here.
15. Ek sal nie toelaat dat vreemde nasies met julle spot of julle verneder of julle pootjie nie, sê die oppermagtige Here.”
16. Die Here het verder vir my gesê:
17. “Mensekind, toe die volk Israel in hulle eie land gelewe het, het hulle dit besoedel met hulle optrede. Wat hulle gedoen het, was vir My soos wanneer ’n vrou menstrueer.
18. Hulle het die land besoedel deur moord te pleeg en afgode te aanbid. Daarom het Ek my wraak oor hulle uitgestort.
19. Ek het hulle na baie lande toe verstrooi om hulle te straf vir die bose manier waarop hulle gelewe het.
20. Waar hulle tussen die nasies verstrooi was, het hulle my heilige Naam oneer aangedoen. Want die nasies het gesê: ‘Hierdie is die Here se mense, en tog moes hulle weggaan uit sy land!’
21. Ek is bekommerd daaroor dat mense respek vir my Naam verloor. Dit is veroorsaak deur die mense van Israel wat tussen die nasies gaan woon het.