1. Die Here het vir my gesê:
2. “Mensekind, gaan sê vir jou mense: Wanneer Ek ’n leër teen ’n land stuur, kies die mense van die land iemand wat wagstaan.
3. As hy die vyand sien aankom, maak hy alarm om die mense te waarsku.
4. As die mense wat die alarm hoor, hulle nie daaraan steur nie, is dit hulle eie skuld as hulle doodgemaak word.
5. Hulle het die waarskuwing gekry, maar wou nie luister nie. Hulle is verantwoordelik vir hulle eie dood. As hulle hulle aan die waarskuwing gesteur het, sou hulle hulself gered het.
6. Maar as die wag die vyand sien aankom en nie alarm maak nie, is hy verantwoordelik as mense sterf. Hulle sal doodgemaak word oor hulle eie sondes, maar Ek hou die wag verantwoordelik.
7. “Mensekind, Ek maak jou die wag vir die mense van Israel. Luister na wat Ek vir jou sê en waarsku hulle namens My.
8. As Ek sê dat bose mense sal sterf en jy waarsku hulle nie oor hulle optrede nie, sal hulle sterf oor hulle sondes, maar Ek hou jou verantwoordelik vir hulle dood.
9. Maar as jy hulle waarsku om om te draai en hulle weier om dit te doen, sal hulle doodgaan oor hulle sondes, maar jy sal nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie.”
10. “Mensekind, sê vir die mense van Israel: Julle sê: ‘Ons oortredings en sondes rus swaar op ons. Ons vergaan! Hoe gaan ons oorleef?’
11. So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Ek wil nie hê skuldige mense moet doodgaan nie. Ek wil net hê hulle moet omdraai van hulle bose optrede sodat hulle kan lewe. Draai om! Draai weg van julle boosheid, mense van Israel! Hoekom wil julle doodgaan?
12. “Mensekind, sê vir jou volksgenote: Die goeie dade van regverdige mense sal hulle nie red as hulle sonde doen nie. En die sondes van bose mense sal nie teen hulle tel as hulle hulle bekeer en wegdraai van hulle sonde nie.