2. “Mensekind, is jy gereed om Jerusalem te oordeel? Is jy gereed om die stad vol moordenaars te oordeel? Konfronteer die stad dan met sy verskriklike dade.
3. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Stad van moordenaars, jy het die oordeel oor jouself gebring. Stad vol afgode, jy het jouself besoedel.
4. Jy is skuldig aan moord en afgodsdiens. Jou dag van vernietiging het aangebreek! Jy het aan die einde van jou lewe gekom. Ek maak jou iets waarmee mense oor die hele wêreld sal spot.
5. Mense van naby en van ver sal met jou die spot dryf, stad vol onreinheid en verwarring.
6. “Elke leier in Israel wat in jou bly, is daarop uit om moord te pleeg.
7. Julle behandel julle pa’s en ma’s met minagting. Julle verdruk vreemdelinge wat tussen julle woon. Julle mishandel en onderdruk weeskinders en weduwees.
8. Julle sien neer op heilige dinge. Julle minag my Sabbatdae.
9. Mense kla mekaar valslik aan en sorg dat hulle onskuldig doodgemaak word. Jy is vol afgodsdienaars en mense wat afskuwelike dade pleeg.
10. Mans slaap saam met hulle pa’s se vroue en vroue wat menstrueer.
11. In jou bly daar mans wat met getroude vroue egbreuk pleeg, ander wat saam met hulle skoondogters slaap of hulle eie halfsusters verkrag.
12. Daar is mense wat hulleself uithuur om moord te pleeg, hulle vat rente en woekerwins, hulle pleeg bedrog en loop mense in. Hulle dink nie eers aan My en steur hulle nie aan my wil nie, sê die oppermagtige Here.
13. “Nou slaan Ek my hande saam oor die oneerlike wins wat jy maak en die moorde wat jy pleeg.
14. Hoe selfversekerd sal jy in die dag van afrekening wees? Ek, die Here, vra jou. Ek gaan doen wat Ek gesê het:
15. Ek verstrooi jou tussen die nasies, oor die hele wêreld. Ek maak jou skoon van al jou boosheid.
16. En wanneer julle tussen die nasies onrein geword het, sal julle weet dat Ek die Here is.”