Esegiël 17:5-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. “‘Hy het ook ’n steggie uit jou land gevat en dit in vrugbare grond langs ’n breë rivier geplant. Hier sou dit so vinnig groeisoos ’n wilgerboom.

6. Dit het wortelgeskiet en ’n wingerdstok geword, welig, maar laag op die grond. Sy takke het opgegroei na die arend toe, en sy wortels was diep in die grond. Dit het sterk ranke uitgestoot met baie blare.

7. Maar ’n ander groot arend met breë vlerke en baie vere het toe verbygekom. Die wingerdstok het sy wortels en takke na hom toe uitgesteek vir water.

8. Die wingerdstok het dit gedoen al was daar goeie grond en genoeg water sodat dit ’n sterk wingerdstok met baie blare en druiwe kon word.’

9. “Jy moet sê: ‘Die oppermagtige Here vra: Sal dit goed gaan met die wingerdstok? Sal dit nie ontwortel word, gestroop van al sy vrugte sodat dit verdroog nie? Selfs die nuwe groei sal verskrompel. Baie mense of baie krag is nie nodig om die wingerdstok wortel en tak uit te roei nie.

10. As die wingerdstok oorgeplant is, sal dit groei? Sal dit nie heeltemal verdroog wanneer die oostewind dit tref nie? Dit sal verdroog in dieselfde grond waarin dit nou so mooi uitspruit.’”

11. Toe sê die Here vir my:

12. “Sê vir hierdie opstandige mense: Verstaan julle nie die betekenis van die gelykenis van die arende nie? Ek sal vir julle verduidelik, sê die oppermagtige Here. Die koning van Babilon het na Jerusalem gekom. Hy het haar koning en leiers weggeneem en hulle na Babilon toe saamgeneem.

13. Hy het ’n ooreenkoms met ’n lid van die koning se familie gesluit en hom ’n eed laat aflê dat hy lojaal sou wees. Hy het ook haar mees invloedryke leiers in ballingskap weggevoer

14. sodat Israel nie weer sterk kon word en in opstand kom nie. Sy kon oorleef slegs as sy haar hou by haar ooreenkoms met Babilon.

15. “Maar daardie koning het in opstand gekom en ambassadeurs na Egipte toe gestuur om ’n groot leërmag en baie perde te kry. Sal hy suksesvol wees? Sal die mens wat sulke dinge doen daarmee wegkom? Sal hy die ooreenkoms verbreek en tog ontsnap?

16. So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, hy sal in Babilon sterf, in die land van die koning wat hom op die troon gesit het. Hy het dié koning se ooreenkoms verag en verbreek.

17. Wanneer oorlog uitbreek en Jerusalem beleër word, sal die farao en sy magtige leër nie vir Israel kan help nie. Baie sal hulle lewe verloor,

18. want die koning het die eed wat hy afgelê het, geminag deur die ooreenkoms te verbreek. Hy het gesweer dat hy gehoorsaam sou wees; daarom sal hy nie ontsnap nie.

19. “So sê die oppermagtige Here: So seker as wat Ek lewe, Ek sal hom straf omdat hy die ooreenkoms met My verbreek het en die eed geminag het wat hy in my Naam gesweer het.

Esegiël 17