9. Ek lig my vuis teen elke profeet wat lieg, en hulle sal verban word uit die gemeenskap van Israel. Ek krap hulle name uit Israel se annale. Hulle sal nooit weer hulle eie land sien nie. Dan sal hulle agterkom dat Ek die oppermagtige Here is!
10. “Hierdie bose profete mislei my volk as hulle sê: ‘Daar is rus en kalmte!’ terwyl daar geen vrede is nie! Dit is asof mense vir hulleself ’n dun muur bou, en nou probeer hierdie profete dit sterker maak deur dit met kalk af te wit.
11. Sê vir die mense wat die muur afgewit het dat hulle muur binnekort gaan omval. ’n Groot reënstorm met baie haelstene en sterk winde sal die muur omgooi.
12. En wanneer die muur val, sal mense uitroep: ‘Waar is die kalk waarmee julle dit afgewit het nou?’
13. “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek sal jou witgewaste muur wegvoer in ’n storm van verontwaardiging, met ’n vloed van woede en haelstene van toorn.
14. Julle muur wat julle ewe netjies afgewit het, breek Ek af tot op die fondasie. En wanneer dit inmekaarstort, sal dit julle verpletter. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.
15. Eers dan sal my woede teen die muur en die mense wat dit afgewit het, afgekoel wees. Dan sal Ek vir julle sê: Die muur én die mense wat dit afgewit het, is daarmee heen.