11. Sê vir die mense wat die muur afgewit het dat hulle muur binnekort gaan omval. ’n Groot reënstorm met baie haelstene en sterk winde sal die muur omgooi.
12. En wanneer die muur val, sal mense uitroep: ‘Waar is die kalk waarmee julle dit afgewit het nou?’
13. “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek sal jou witgewaste muur wegvoer in ’n storm van verontwaardiging, met ’n vloed van woede en haelstene van toorn.
14. Julle muur wat julle ewe netjies afgewit het, breek Ek af tot op die fondasie. En wanneer dit inmekaarstort, sal dit julle verpletter. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.
15. Eers dan sal my woede teen die muur en die mense wat dit afgewit het, afgekoel wees. Dan sal Ek vir julle sê: Die muur én die mense wat dit afgewit het, is daarmee heen.
16. Hulle is die profete wat oor Jerusalem geprofeteer het en vertel het hoe goed dit sal gaan, terwyl daar geen vrede was nie, sê die oppermagtige Here.”
17. “Mensekind, waarsku ook teen die vroue wat net profeteer wat in hulle verbeelding opkom. Profeteer oor hulle.