Eksodus 39:31-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. Hierdie blom is met blou gare aan die voorkant van die tulband vasgewerk, presies net soos die Here vir Moses gesê het.

32. Uiteindelik was al die werk aan die tabernakel klaar. Die Israeliete het alles presies net so gemaak soos die Here vir Moses beduie het.

33. Hulle het die hele tent met alles wat daarby hoort na Moses toe gebring. Dit was die tent en die meubels, die hakies en die panele, die dwarslatte en die pale op hulle voetstukke.

34. Daar was die dak van die tent met die lae van gebreide velle en die gordyn om die binneste deel af te skort.

35. Daar was ook die ark met die getuienis en die drapale met die deksel.

36. Dan was daar ook die tafel met sy toebehore en die offerbrood;

37. die goue kandelaar, met sy lampies en olie en alles wat daarby hoort;

38. die goue altaar, die salfolie, die geurige wierook en die gordyn voor die ingang was ook daar.

39. Die altaar van koper met sy koperrooster, die drapale en die bybehore en die groot waskom met sy voetstuk was ook daar.

40. Daar was ook die gordyne vir die binnehof met die regop pale en hulle voetstukke, die gordyn by die ingang van die binnehof, die penne en hulle toue en al die ander gereedskap wat by die tent nodig was.

41. Daar was ook die geborduurde klere wat tydens diens in die heiligdom gedra moes word, naamlik die gewyde klere vir die priester Aäron en sy seuns wanneer hulle as priesters opgetree het.

42. Die Israeliete het alles gemaak net soos die Here vir Moses gesê het.

43. Moses het alles ondersoek en toegesien dat alles presies net so was soos die Here beveel het. Daarna het Moses almal geseën.

Eksodus 39