22. Die mantel wat agter die skouerkleed afgehang het, is uit een stuk blou materiaal gemaak.
23. In die middel was daar ’n opening waardeur Aäron sy kop kon steek. Dit het ’n omboorsel gehad om te keer dat dit skeur.
24. Al op die kant van die mantel het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk wat uit garing gemaak is.
25. Hulle het ook goue klokkies al op die soom vasgewerk.
26. Die tosseltjies en klokkies het mekaar afgewissel. Dit is gemaak presies net soos die Here vir Moses gesê het.
27. Hulle het ook vir Aäron en sy seuns ander klere uit fyn linne gemaak.
28. Hulle het ’n tulband en kopdoeke van fyn linne gemaak asook linnebroeke.
29. Daar was ook serpe van geborduurde materiaal waarin blou, pers en bloedrooi wol ingeweef is. Dit was net soos die Here vir Moses gesê het.
30. Hulle het ook vir Aäron se tulband ’n blom van suiwer goud gemaak. Daarin was fyn gegraveer: “Net vir die Here.”
31. Hierdie blom is met blou gare aan die voorkant van die tulband vasgewerk, presies net soos die Here vir Moses gesê het.
32. Uiteindelik was al die werk aan die tabernakel klaar. Die Israeliete het alles presies net so gemaak soos die Here vir Moses beduie het.
33. Hulle het die hele tent met alles wat daarby hoort na Moses toe gebring. Dit was die tent en die meubels, die hakies en die panele, die dwarslatte en die pale op hulle voetstukke.