Eksodus 35:16-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. die brandofferaltaar met alles wat daarby hoort; sy koperrooster en die pale waaraan dit gedra word; die waskom en sy voetstuk;

17. die materiaal vir die muur rondom die binnehof; die regop pale en hulle voetstukke; die gordyn by die opening van die binnehof;

18. die tentpenne vir die tabernakel en vir die binnehof met hulle toue;

19. die spesiale klere wat die priester dra wanneer hy in die heiligdom werk; Aäron en sy seuns se klere om hulle dienswerk in te doen.”

20. Almal van die vergadering is toe weg van Moses af.

21. Elkeen wat so gevoel het, het uit vrye wil vir die Here iets gebring vir die tabernakel en sy toerusting, en vir die heilige klere wat gemaak moes word.

22. Almal wat gewillig was, sowel mans as vroue, het gekom en vir die Here borsspelde, oorringe, halssnoere en voorwerpe van goud gegee.

23. Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring.

24. Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here iets van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring.

25. Al die vroue wat bedrewe was met weefwerk het gekom en blou, pers en rooi materiaal en fyn linnestof vir die Here gebring.

26. Die vroue wat gewillig was en dit kon doen, het bokhaar gespin.

27. Die leiers het onikssteen en die ander edelstene geskenk wat vir die skouerstuk en die borssak nodig was.

Eksodus 35