Eksodus 35:10-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. “Almal onder julle wat die bekwaamheid het, moet kom om die dinge te maak wat die Here gesê het:

11. die tabernakel met sy seile bo-oor, die hakies, die rame, die dwarsbalke en die regop pale met hulle voetstukke;

12. die ark met sy drahoute; die deksel daarop en die gordyn wat dit afskort;

13. die tafel met die pale waaraan dit gedra word en al sy toebehore; die offerbrood;

14. die kandelaar en alles wat daarby hoort; sy lampies met hulle olie;

15. die wierookaltaar en die pale waaraan dit gedra word; die salfolie en die geurige wierook; die gordyn by die ingang van die tabernakel;

16. die brandofferaltaar met alles wat daarby hoort; sy koperrooster en die pale waaraan dit gedra word; die waskom en sy voetstuk;

17. die materiaal vir die muur rondom die binnehof; die regop pale en hulle voetstukke; die gordyn by die opening van die binnehof;

18. die tentpenne vir die tabernakel en vir die binnehof met hulle toue;

19. die spesiale klere wat die priester dra wanneer hy in die heiligdom werk; Aäron en sy seuns se klere om hulle dienswerk in te doen.”

20. Almal van die vergadering is toe weg van Moses af.

21. Elkeen wat so gevoel het, het uit vrye wil vir die Here iets gebring vir die tabernakel en sy toerusting, en vir die heilige klere wat gemaak moes word.

22. Almal wat gewillig was, sowel mans as vroue, het gekom en vir die Here borsspelde, oorringe, halssnoere en voorwerpe van goud gegee.

23. Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring.

24. Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here iets van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring.

25. Al die vroue wat bedrewe was met weefwerk het gekom en blou, pers en rooi materiaal en fyn linnestof vir die Here gebring.

Eksodus 35