9. Die Here sê toe vir Moses: “Ek het nou gesien dat hierdie volk hulle eie kop gaan volg.
10. Moenie My nou keer nie. Laat staan My dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitwis. Ek sal eerder van jou ’n groot nasie maak.”
11. Maar Moses het by die Here gepleit om dit nie te doen nie. Hy het vir die Here gevra: “Here, waarom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag en sterk mag uit Egipte bevry het?
12. Waarom sal U die Egiptenaars kans gee om te sê: ‘Hulle God het hulle om die bos gelei. Hy het hulle bevry sodat Hy hulle tussen die berge kon uitwis en van die aarde af laat verdwyn’? Moet tog asseblief nie kwaad word nie. Sien af daarvan en moenie hierdie ramp oor hulle laat kom nie.
13. Onthou tog dat U ’n ooreenkoms gesluit het met u dienaars Abraham, Isak en Jakob. “U het vir hulle belowe: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie hele land vir julle nageslag gee om vir altyd in te woon.’”
14. Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring.
15. Daarna het Moses omgedraai en van die berg afgeklim. Hy het die klippe waarop die verbond geskryf was in sy hand gehou. Dit was op albei kante, voor en agter, geskryf.
16. Dit was God se eie handewerk. Hy het self daarop geskryf.