Eksodus 23:12-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. “Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan. Op die sewende dag moet jy ophou om te werk sodat jou beeste en donkies kan uitrus. Jou werkers en die buitelanders by jou moet kans kry om te ontspan.

13. “Sorg dat julle alles doen wat Ek vir julle gesê het. Julle moenie vreemde gode aanbid nie. Julle mag nie eers hulle name noem nie.”

14. “Daar is in die loop van die jaar drie feeste wat julle ter wille van My moet vier.

15. Die eerste is die Fees van die Ongesuurde Brood. Soos Ek al vantevore vir julle gesê het, moet julle vir sewe dae lank kos eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Dit moet jaarliks op dieselfde tyd aan die begin van die lente gevier word. Dit is die tyd van die jaar toe julle uit Egipte weg is. Elkeen moet dan iets vir My kom offer.

16. Die tweede fees is die Oesfees. Dan bring julle vir My die eerste graan wat julle afoes. Die derde fees is die fees aan die einde van die oesseisoen. Dit word gevier wanneer julle die laaste deel van die oes van die lande af inbring.

17. Gedurende elkeen van die drie feeste in die loop van die jaar moet elke manlike persoon die Here julle God kom aanbid.

18. “Julle mag nooit vir My bloed offer saam met brood waarin daar suurdeeg is nie. Die vet van die dier wat julle offer mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie.

19. “Julle moet die beste deel van die graan wat julle op die eerste dag oes, na die Here julle God se tempel toe bring. “Julle mag nie ’n bokkie in sy ma se melk kook nie.”

20. “Ek stuur ’n engel saam met julle om julle langs die pad te beskerm. Hy sal vir julle die pad wys na die plek wat Ek vir julle uithou.

21. Gee aandag aan hom en luister na wat hy sê. Moenie julle teen hom verset nie. Hy sal dit nie verdra as julle teen hom in opstand kom nie. Hy verteenwoordig My.

22. “As julle mooi na hom luister en presies doen wat Ek vir julle sê, sal Ek self julle vyande se teenstander wees. Ek sal My stel teenoor hulle wat teen julle is.

23. “My engel sal saam met julle gaan. Hy sal vir julle die pad wys na die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete. Ek sal hulle uitwis.

24. Julle mag nie voor hulle gode kniel om hulle te aanbid nie. Julle moenie maak soos hulle nie. Julle moet hulle afgodsdiens met wortel en tak uitroei. Julle moet ook die klippilare waar hulle aanbid tot op die grond toe afbreek.

25. “Julle mag niemand anders as die Here julle God aanbid nie. Ek sal julle met kos en water en gesondheid seën.

Eksodus 23