21. Wanneer daar groot rampe oor hulle kom, sal hierdie lied ’n getuienis teen hulle wees. Hulle nageslagte sal dit nooit vergeet nie. Ek weet wat in hierdie volk se binneste aangaan, selfs nog voordat hulle die land binnegekom het wat Ek met ’n eed aan hulle beloof het.”
22. Op daardie selfde dag nog het Moses die woorde van die lied neergeskryf en dit vir die Israeliete geleer.
23. Die Here het toe vir Josua, die seun van Nun, soos volg beveel: “Wees sterk en hou moed! Jy moet die Israeliete inbring in die land wat Ek met ’n eed aan hulle beloof het. Ek sal by jou wees.”
24. Nadat Moses die woorde van die wet in ’n boekrol neergeskryf het,
25. het hy die Leviete wat die ark van die verbond moes dra, beveel:
26. “Neem hierdie wetboek en sit dit langs die ark van die verbond van die Here julle God neer, sodat dit as getuie teen die volk van Israel kan dien.
27. Ek weet hoe opstandig en hardkoppig julle is. Selfs nou, terwyl ek nog hier by julle is, is julle reeds opstandig teen die Here. Hoeveel te meer sal julle ná my dood wees!
28. Roep die leiers en die ampsdraers van die stamme bymekaar sodat ek met hulle kan praat, en die hemel en die aarde as getuies teen hulle kan roep.
29. Ek weet verseker dat julle ná my dood sal afwyk van die pad wat ek julle beveel het om te volg. Wanneer julle in die toekoms doen wat verkeerd is vir die Here en Hom met julle dade tart, sal daar rampe oor julle kom.”
30. Moses het toe hierdie lied vir die hele vergadering van Israel voorgesing: