4. “Nadat julle die Jordaan oorgesteek het, gaan sit hierdie klippe by Ebalberg neer. Wit dit dan met kalk af, soos wat ek jou vandag beveel.
5. Bou daar ’n altaar van gewone klip vir die Here jou God.
6. Moenie dit met gekapte klippe bou nie. Offer brandoffers op die altaar vir die Here jou God.
7. “Bring ook vredesoffers daarop, en vier met groot vrolikheid fees in die teenwoordigheid van die Here jou God.
8. Op die afgewitte klippe moet jy die bepalings van die gebooie duidelik neerskryf.”
9. Moses en al die Levitiese priesters het toe die hele Israel soos volg toegespreek: “Israel, wees stil en luister! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword.
10. Wees gehoorsaam aan die Here jou God en kom al hierdie opdragte en voorskrifte na wat ek vandag vir jou gee.”
11. Daardie selfde dag het Moses ook die volgende opdrag aan die volk gegee:
12. “Wanneer julle die Jordaanrivier oorsteek, moet die stamme van Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin op die Gerisimberg gaan staan om die volk te seën.
13. Die stamme van Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali moet op die Ebalberg gaan staan om ’n vloek uit te spreek.
14. Die Leviete moet dan hardop oor die hele volk Israel uitroep:
15. “‘Vervloek is elkeen wat ’n afgodsbeeld uitkerf of giet en dit in die geheim aanhou. Hierdie afgode is die werk van ambagsmense,hulle is afskuwelik vir die Here.’ Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen.’
16. ‘Vervloek is elkeen wat sy pa of ma verag.’Dan moet die hele volk antwoord:‘Amen.’