Deuteronomium 14:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Julle is kinders van die Here julle God. Daarom mag julle nie ter wille van iemand wat dood is julleself stukkend sny, of die hare op julle voorkoppe afskeer nie.

2. Julle is ’n volk wat vir die Here julle God as heilig afgesonder is. Die Here het julle as volk gekies om sy kosbare besitting uit al die volke van die aarde te wees.

3. “Julle mag niks eet wat onrein is nie.

4. Die diere wat julle wel mag eet, is: bees, skaap, bok,

5. takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok en bergskaap.

6. “Enige dier met gesplete hoewe en wat herkou, mag geëet word.

7. As ’n dier nie aan albei vereistes voldoen nie, mag dit nie geëet word nie. Julle mag dus nie ’n kameel, haas of dassie eet nie. Hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie.

Deuteronomium 14