Deuteronomium 12:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “So lank as wat julle lewe, moet julle hierdie voorskrifte en bepalings uitvoer in die land wat die Here, die God van julle voorouers, aan julle gee.

2. “Wanneer julle die nasies uitdryf wat daar bly, moet julle al die plekke vernietig waar hulle hulle gode aanbid – plekke hoog op in die berge, teen heuwels en onder elke groen boom.

3. Breek hulle altare af en kap hulle heilige pilare stukkend. Verbrand hulle Asjerapale en vernietig hulle afgode. Wis die name van hulle gode uit op daardie plekke!

4. “Moenie die Here julle God aanbid op dieselfde manier waarop die heidense nasies hulle gode aanbid nie.

5. Julle moet die Here julle God soek by die plek wat Hyself sal kies uit al die stamme dat sy Naam daar geëer kan word.

6. Daarheen moet julle vir die Here julle brandoffers, ander offers, julle tiendes, julle gawes, julle gelofte-offers, julle vrywillige offers en die eerstelinge uit julle bees- en skaaptroppe bring.

7. Daar moet julle en julle families saam feesvier in die teenwoordigheid van die Here julle God. Daar sal julle kan bly wees oor alles wat julle gedoen het omdat die Here julle God julle geseën het.

Deuteronomium 12