Daniël 11:30-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. Oorlogskepe uit die westelike seegebiede sal teen hom uitvaar en hy sal bang word en omdraai huis toe. Hy sal sy woede uithaal op die mense van God se verbond. Hy sal hulle beloon wat hulle rug op God se verbond gedraai het.

31. Sy leër sal kom en die vesting van die tempel besoedel. Hulle sal die daaglikse offer beëindig. Hulle sal die gruwelike ding wat alles verwoes by die tempel oprig.

32. Hy sal dié prys wat die verbond met God verwerp het. Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is.

33. “Hulle wat die volk onderrig, sal baie mense help om te verstaan. Vir dae lank sal van hulle doodgemaak word met die swaard en met vuur, gevange geneem en beroof word.

34. Terwyl dit gebeur, sal daar wel beperkte hulp vir hulle wees. Baie wat by hulle aansluit, sal dit egter onder valse voorwendsels doen.

35. “Sommige van hulle wat onderrig gee, sal struikel en vervolg word sodat hulle gelouter, gesuiwer en gereinig kan word vir die eindtyd. Die tyd waarop besluit is, het nog voorgelê.

36. “Die koning sal doen net wat hy wil. Hy sal homself aanstel en dink dat hy belangriker is as al die gode. Selfs teen die God van die gode sal hy verwaande dinge kwytraak. Hy sal sukses behaal totdat die tydstip van God se verontwaardiging tot ’n einde kom soos reeds besluit is.

37. Hy sal hom nie steur aan die gode van sy voorouers of die gunsteling god van die vroue nie. Hy ontsien geen god nie, want hy ag homself bo al die gode.

38. Hy sal eerder die god wat hom beskerm, dien. Dit is ’n god wat sy voorouers nie geken het nie. Dié god sal hy vereer met goud en silwer, met edelstene en duur geskenke.

39. Met die hulp van hierdie vreemde god sal hy versterkte vestings aanval. Hy sal eer gee aan dié wat hulle aan hierdie god onderwerp. Hy sal hulle aanstel om oor baie mense te regeer en hulle beloon deur aan hulle grond te gee.

Daniël 11