8. Hy het egter Saul se twee seuns Armoni en Mefiboset uitgelewer. Hulle ma was Rispa, die dogter van Aja. Hy het ook die vyf seuns van Saul se dogter Merab, die vrou van Adriël, die seun van Barsillai die Megolatiet
9. uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle op die berg voor die Here tereggestel het. Die sewe is almal saam doodgemaak. Dit was aan die begin van die garsoes.
10. Maar Rispa, dogter van Aja, het rouklere gevat en op ’n rots oopgegooi. Sy het gedurende die hele garsoestyd daar gebly totdat die eerste reën geval het. Sy het nie toegelaat dat roofvoëls bedags of roofdiere snags aan haar seuns se lyke vreet nie.
11. Toe Dawid hoor wat Aja se dogter Rispa, byvrou van Saul, doen,
12. het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan by die inwoners van Jabes in Gilead laat haal. Saul en Jonatan het destyds in die geveg op Gilboa teen die Filistyne omgekom. Die Filistyne het die liggame op die stadsplein van die Filistynse stad Bet-San opgehang, maar die inwoners van Jabes in Gilead het hulle liggame daar gaan steel.
13. Dawid het hierdie bene van Saul en Jonatan laat haal. Hy het dit saam met die bene van die manne wat die Gibeoniete tereggestel het
14. op die dorp Sela in Betlehem, in die grafkelder van Saul se pa, Kis, laat begrawe. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. Daarna het God die gebede vir die land verhoor.
15. Op ’n keer was daar weer oorlog tussen die Filistyne en Israel. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg, maar Dawid self het moeg en uitgeput geraak.
16. Jisbi van Nob was uit die geslag van die Refaïete. Die gewig van sy bronsspies was ongeveer 3,4 kilogram en hy was gewapen met ’n nuwe uitrusting. Hy het kans gesien om Dawid dood te maak.
17. Maar Abisai seun van Seruja het tot sy redding gekom en die Filistyn verslaan. Daarna het Dawid se soldate gesê: “U gaan nie weer saam in die gevegte nie! Ons kan tog nie die risiko loop dat die lig van Israel uitgedoof word nie!”
18. Daarna was daar ’n ander geveg teen die Filistyne in Gob. In die geveg het Sibbekai uit Gusa vir Sippai uit die geslag van die Refaïete, doodgemaak.
19. Tydens nog ’n geveg teen die Filistyne by Gob, het Elganan seun van Jaäre-Origam uit Betlehem, vir Goliat die Gattiet doodgemaak. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel.
20. In nog ’n geveg teen die Filistyne in Gat was daar ’n baie groot man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, saam 24. Hy was ook uit die geslag van die Refaïete.
21. Hy het Israel uitgedaag. Maar Jonatan seun van Dawid se broer Samma het hom doodgemaak.
22. Hierdie vier Filistyne was uit die geslag van die Refaïete van Gat. Dawid en sy soldate het hulle almal doodgemaak.