1. Dawid het die leër wat by hom was, slaggereed gekry en hoofde oor honderd en oor duisend aangewys.
2. Een derde het hy onder Joab se bevel geplaas, een derde onder Joab se broer Abisai, en een derde onder Ittai die Gattiet. Toe sê die koning vir hulle: “Ek sal ook saam met julle uittrek.”
3. Maar die soldate het sterk beswaar gemaak. “Nee! U moenie saamgaan nie,” sê hulle. “As ons moet vlug, sal niemand hulle aan ons steur nie; selfs as die helfte van ons doodgaan, sal niemand ag slaan op ons nie. Maar u is soos 10 000 van ons. Dit sal beter wees as u ons liewer van die stad se kant af kom help as dit nodig is.”
4. “Ek sal maak soos julle sê,” stem die koning in. Hy het by die stadspoort gaan staan terwyl die soldate in afdelings van honderd en duisend by hom verbygegaan het.
5. Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Julle moet om my ontwil mooi werk met die jong man Absalom.” Al die soldate het gehoor watter opdrag die koning aan sy bevelvoerders gegee het.
6. Die leër het op die vlakte teen Israel opgetrek. Die geveg het tot in die Efraimsbos uitgebrei.
7. Dawid se leër het die magte van Israel verslaan. Daar was ’n groot slagting en 20 000 soldate het daardie dag gesneuwel.
8. Die gevegte het oor die hele gebied uitgebrei. Meer mense het as gevolg van die bos omgekom as wat deur die swaard gesneuwel het.
9. Dawid se manne het op Absalom afgekom. Hy het op ’n muil gery. Die muil het onder die digte takke van ’n groot boom deurgegaan waar Absalom se kop tussen die takke vasgevang is. Sy muil het onder hom uit gehardloop sodat hy tussen hemel en aarde bly hang het.
10. Iemand het gesien wat gebeur het en vir Joab gaan vertel: “Weet u, ek het Absalom gesien waar hy aan ’n boom hang!”
11. “Wat?” sê Joab. “Jy het hom gesien en hom nie eers doodgemaak nie? Ek sou jou dan met tien silwerstukke en ’n gordel beloon het!”