2 Samuel 11:13-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Dawid nooi hom toe om saam met hom te kom eet en drink. Hy het hom dronk gemaak, maar selfs toe het hy nog nie huis toe gegaan nie, maar weer by die ingang van die paleis by die koning se slawe geslaap.

14. Die volgende oggend skryf Dawid ’n brief aan Joab en stuur dit saam met Urija.

15. Die brief het gelui: “Plaas Urija op die voorpunt waar die geveg op sy hewigste is. Val dan terug sodat hy kan sneuwel.”

16. Joab was besig om die stad te beleër. Hy het vir Urija op ’n plek gesit waar hy geweet het die stryd is vel.

17. Die verdedigers het uitgekom om teen Joab te veg. Verskeie van Dawid se soldate het gesneuwel, ook Urija die Hetiet.

18. Joab het ’n verslag van die geveg na Dawid toe gestuur.

19. Hy sê vir die boodskapper: “Lewer verslag oor die geveg aan die koning.

20. As hy kwaad word en vra: ‘Hoekom het julle so naby aan die stad gekom? Weet julle nie dat daar van die mure af op julle geskiet sal word nie?

21. Wie het Abimelek seun van Jerubbeset doodgemaak? Is dit dan nie ’n vrou wat bo van die muur af ’n maalklip op hom gegooi het sodat hy by Tebes gesterf het nie? Hoekom het julle so naby aan die muur gekom?’ Dan moet jy vir hom sê: ‘Urija die Hetiet het ook gesneuwel.’”

22. Die boodskapper het toe volledig aan Dawid verslag gedoen.

23. “Die vyand het sterk weerstand gebied en teen ons in die oop veld uitgetrek,” sê hy. “Ons het hulle egter tot by die stadspoort teruggedryf.

24. Toe het die boogskutters van die muur af op ons begin skiet. Sommige van u soldate is getref, ook Urija die Hetiet is dood.”

25. Dawid antwoord: “Sê vir Joab: ‘Moenie jou hieroor ontstel nie. Die swaard tref nou een, dan ’n ander. Veg net nog harder en verower die stad!’ So moet jy hom bemoedig.”

26. Toe Batseba hoor dat haar man dood is, het sy oor hom gerou.

27. Toe die routyd verby was, het Dawid haar na sy paleis toe laat haal en sy het een van Dawid se vroue geword. Sy het geboorte gegee aan ’n seuntjie. Maar die Here was baie ontevrede met dit wat Dawid gedoen het.

2 Samuel 11