2 Kronieke 9:8-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Mag die Here jou God geloof word! Hy verbly Hom in jou en het jou op die troon gesit om namens Hom te regeer. Dis omdat jou God vir Israel so liefhet en wil hê dat hierdie koninkryk vir altyd bestaan dat Hy jou koning gemaak het oor hulle sodat jy met reg en geregtigheid kan regeer.”

9. Toe gee sy vir die koning ’n geskenk van meer as vier ton goud en baie kosbare speserye, asook waardevolle juwele. Nooit vantevore was daar speserye van hierdie gehalte soos dié wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.

10. (Toe die bemanning van Hiram en Salomo goud uit Ofir gebring het, het hulle ook ryk vragte van jenewerhout en kosbare juwele saamgebring.

11. Die koning het die jenewerhout gebruik om trappe vir die tempel van die Here en die koninklike paleis te maak, en ook om harpe en liere vir die musikante te maak. Daar was nooit vantevore sulke pragtige musiekinstrumente in Juda nie.)

12. Koning Salomo het vir die koningin van Skeba gegee wat sy ook al gevra het. Dit was geskenke van groter waarde as wat sy vir hom gebring het. Daarna het sy en haar volgelinge na hulle eie land toe vertrek.

13. Salomo se jaarlikse inkomste was omtrent 23 ton goud.

14. Dit het nie die addisionele inkomste ingesluit wat hy van reisigers en handelaars ontvang het nie. Al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs het ook goud en silwer aan Salomo betaal.

15. Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elkeen gebruik.

16. Hy het ook 300 kleiner skilde van bladgoud gemaak en het ongeveer drie en ’n half kilogram goud vir elkeen gebruik. Die koning het hierdie skilde in die Libanonsbosgebou uitgestal.

17. Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

18. Die troon het ses trappe gehad en die voetbank van goud was aan die troon vasgeheg. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu wat langsaan staan.

19. Twaalf beelde van leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.

20. Al koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie.

21. Die koning het ’n handelsvloot gehad wat beman is met matrose wat Hiram gestuur het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane.

22. Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid.

23. Al die konings van die aarde wou hom besoek om die wysheid te hoor wat God vir hom gegee het.

24. Jaar na jaar het elkeen wat hom besoek het vir hom geskenke van silwer en goud, klere, wapens, speserye, perde en muile gebring.

25. Salomo het 4 000 stalle vir perde en strydwaens gehad en 12 000 perderuiters. Hy het hulle in die strydwadorpe aangehou en ook by die koning in Jerusalem.

2 Kronieke 9