22. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld moet aflê,
23. hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry soos hy verdien.
24. “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek,
25. luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk Israel en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle en hulle voorouers gegee het.
26. “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het,
27. hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het.