2 Kronieke 34:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Hulle het ook geld gegee waarmee timmermanne en messelaars gekapte klip vir die mure kon koop, asook timmerhout vir die balke van die geboue. Ook die dele wat vroeëre konings van Juda toegelaat het om te verval, het hulle weer herstel.

12. Die werkers het getrou onder leiding van Jagat en Obadja, Leviete uit die Merarifamiliegroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep gewerk. Ander Leviete wat bekwaam was om musiekinstrumente te speel,

13. is ook in bevel geplaas van werkers in verskeie ambagte. Nog ander Leviete het as administratiewe amptenare, skrywers en poortwagters opgetree.

14. Terwyl die geld uitgehaal is wat vir die tempel van die Here versamel is, het Gilkija die priester afgekom op die boek van die gebooie van die Here wat deur Moses gegee is.

15. Gilkija sê toe vir Safan die staatsekretaris: “Ek het die boek van die gebooie in die tempel van die Here gekry!” Gilkija het die boekrol vir Safan gegee.

16. Safan het die boekrol na die koning toe geneem en gesê: “U beamptes is besig om elke ding te doen wat aan hulle opgedra is.

17. Die geld wat by die tempel vir die Here bymekaargemaak is, is aan die toesighouers en die arbeiders gegee.”

18. Safan die staatsekretaris het bygevoeg: “Gilkija die priester het vir my ’n boekrol gegee.” Hy het dit toe vir die koning voorgelees.

2 Kronieke 34