8. As die Israeliete my gebooie, al my riglyne, opdragte en bepalings gehoorsaam wat aan Moses gegee is, sal Ek hulle nie in ballingskap stuur uit hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het nie.”
9. Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat dwaal sodat hulle selfs meer boosheid gepleeg het as die heidense nasies wat die Here uitgeroei het toe die Israeliete in die land aangekom het.
10. Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het al sy waarskuwings geïgnoreer.
11. Daarom het die Here die Assiriese leërs teen hulle gestuur en hulle het Manasse gevange geneem. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met bronskettings vasgemaak en na Babel toe gevat.
12. Terwyl hy in die diepste nood was, het Manasse die Here sy God om genade gevra en hom voor die God van sy voorouers verootmoedig.
13. Toe hy bid, het die Here na hom geluister en sy gebed verhoor en hom laat terugkeer na Jerusalem en sy koninkryk. Manasse het uiteindelik besef dat net die Here God is.