15. Want hulle het gedoen wat vir My verkeerd was, en het My uitgetart vandat hulle voorouers uit Egipte gekom het tot vandag toe.”
16. Manasse het ook so baie onskuldige bloed vergiet dat hy Jerusalem van hoek tot kant daarmee vol gemaak het. Dit was benewens die sonde wat hy Juda laat doen het. Dit alles was verkeerd vir die Here.
17. Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, alles wat hy gedoen het, asook die sondes wat hy gepleeg het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.
18. Toe hy sterf, is hy in die tuin van die paleis begrawe, die tuin van Ussa. Na hom het sy seun Amon koning geword.
19. Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Mesullemet, die dogter van Garus uit Jotba.
20. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa Manasse gedoen het.
21. Hy het die voorbeeld van sy pa nagevolg deur dieselfde afstootlike afgode te dien as wat sy pa gedien het.
22. Hy het die Here, die God van sy voorouers, verlaat en nie die Here se voorskrifte gevolg nie.
23. Amon se eie dienaars het teen hom saamgesweer en die koning in sy paleis vermoor.