2 Konings 19:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die hoofadjudant het toe na die koning van Assirië teruggegaan, maar gehoor dat hy vanaf Lakis verskuif het en besig was om Libna aan te val.

9. Kort daarna kry koning Sanherib van Assirië berig dat koning Tirhaka van Kus met ’n leër op pad is om hom aan te val. Voordat hy vertrek om die aanval te weerstaan, stuur hy die volgende brief met boodskappers aan Hiskia in Jerusalem:

10. “Hierdie boodskap is vir koning Hiskia van Juda. Moenie toelaat dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met beloftes dat die koning van Assirië nie Jerusalem sal inneem nie.

11. Jy weet alte goed wat die konings van Assirië gedoen het waar hulle ook al gegaan het. Hulle het elkeen wat in hulle pad was, vernietig! Hoekom sou jy dit vryspring?

12. Het die gode van ander nasies hulle kom red, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die inwoners van Eden wat in Telassar was? My voorgangers het hulle almal vernietig!

13. Wat het gebeur met die koning van Hamat en die koning van Arpad? Wat het gebeur met die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14. Nadat Hiskia die brief van die boodskappers ontvang en gelees het, gaan hy op na die Here se tempel toe en sprei dit oop voor die Here.

15. Toe bid hy voor die Here soos volg:“O Here, God van Israel,U wat oor die serafs troon!U alleen is God oor al die koninkryke op die aarde.U het die hemel en die aarde gemaak.

16. Luister tog na my, o Here,en hoor wat ek sê.Maak tog u oë oop en kyk,Here!Luister hoe Sanherib die lewende God beledig!

2 Konings 19