7. Amasia het 10 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan. Hy het ook Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit vandag nog genoem word.
8. Op ’n dag stuur Amasia hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas, seun van Joahas en kleinseun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar!”
9. Maar koning Joas van Israel antwoord koning Amasia van Juda: “Die doringbos op die Libanon het ’n boodskap aan die sederboom op die Libanon gestuur: ‘Gee my jou dogter as vrou vir my seun.’ Maar ’n wilde dier van die Libanon het daar verbygekom en die doringbos vertrap.
10. Jy het wel vir Edom verslaan, maar nou gaan dit na jou kop toe. Wees nou tevrede met jou oorwinning en bly tuis! Hoekom soek jy moeilikheid wat vir jou en Juda saam met jou ellende sal bring?”
11. Maar Amasia wou nie luister nie. Koning Joas van Israel het toe sy leër opgeroep om teen koning Amasia oorlog te maak. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem.
12. Die leër van Israel het egter vir Juda verslaan en die manskappe het huis toe gevlug.
13. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda by Bet-Semes gevang. Daarna ruk hy op na Jerusalem toe waar hy ongeveer 180 meter van Jerusalem se muur afgebreek het. Dit was vanaf die Efraimspoort tot by die Hoekpoort.