9. Toe Joahas sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Joas het in sy plek koning geword.
10. In die 37ste jaar van koning Joas se regering in Juda het Joas seun van Joahas koning geword oor Israel. Hy het sestien jaar in Samaria regeer.
11. Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie afgesien van die afgodery wat Jerobeam seun van Nebat hulle geleer het om te doen nie, maar daarmee volhard.
12. Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind, alles wat hy gedoen het, sy dapper dade tydens sy oorloë met koning Amasia van Juda, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.
13. Toe Joas sterf, het Jerobeam II hom opgevolg. Joas is in Samaria by die konings van Israel begrawe.
14. Elisa het siek geword en op sterwe gelê. Koning Joas van Israel het hom besoek en oor hom gehuil. “My vader! My vader! Die strydwa en ruiters van Israel!” het hy uitgeroep.
15. Elisa sê toe vir hom: “Vat jou boog en pyle.” Die koning het so gemaak.