2 Konings 12:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die sewende jaar van koning Jehu se bewind in Israel, het Joas koning in Juda geword. Hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja uit Berseba.

2. Joas het sy lewe lank, terwyl die priester Jojada hom onderrig het, volgens die Here se eise regeer.

3. Die hoogtes van die afgode het hy egter nie vernietig nie. Die volk het nog steeds daar offers gebring en wierook gebrand.

4. Op ’n dag sê Joas vir die priesters: “Vat al die geld wat as ’n gewyde offer na die Here se tempel gebring is. Dit is waarvoor elkeen persoonlik aangeslaan word, en dit wat elkeen vrywillig na die tempel van die Here toe bring.

5. Laat die priesters ’n deel van hierdie geld gebruik om die nodige herstelwerk aan die tempel te doen oral waar daar bouvallige plekke is.”

6. In die 23ste regeringsjaar van Joas het die priesters egter nog nie die vervalle dele aan die tempel herstel nie.

7. Koning Joas roep toe vir Jojada en die ander priesters en vra vir hulle: “Hoekom het julle nie die tempel herstel nie? Julle mag niks meer van die gawes vir julle eie behoeftes gebruik nie. Van nou af moet alles gebruik word om die tempel te herstel.”

2 Konings 12