2 Konings 11:10-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Hy het hulle toegerus met spiese en skilde wat in die tempel van die Here bewaar is en nog aan koning Dawid behoort het.

11. Die hardlopers het rondom die koning gaan staan, gereed met hulle wapens. Hulle het gestaan vanaf die suidelike kant van die tempel óm na die noordelike kant toe en rondom die altaar.

12. Toe bring Jojada die seun van die koning na vore en sit die kroon op sy kop. Hy gee vir Joas ’n afskrif van die Here se vereistes en verklaar hom tot koning. Hulle het hom gesalf en almal het hande geklap en uitgeroep: “Lank lewe die koning!”

13. Atalia het die lawaai van die hardlopers en die volk gehoor en na die mense by die tempel van die Here toe gegaan.

14. Daar sien sy die pasgekroonde koning wat volgens tradisie op die gebruiklike plek staan. Die leiers en trompetblasers het rondom hom gestaan en al die burgers van die land het gejuig en op trompette geblaas. Toe skeur Atalia haar klere en skree: “Verraad! Verraad!”

15. Maar Jojada die priester het die be-velvoerders oor honderd in beheer van die manskappe beveel: “Vat haar buitentoe. Enigeen wat haar ondersteun, moet julle met die swaard doodmaak.” Hy voeg toe by: “Moenie haar hier in die tempel van die Here doodmaak nie.”

16. Hulle het haar gegryp, haar deur die Perdepoort na die paleisgronde toe geneem en haar daar doodgemaak.

17. Toe het Jojada ’n verbond tussen die Here, die koning en die volk gesluit naamlik dat hulle die volk van die Here sou wees. Hy het ook ’n verbond tussen die koning en die volk tot stand gebring.

18. Daarna het al die burgers van die land na die Baältempel toe gegaan en dit afgebreek. Hulle het al die altare vernietig en die afgodsbeelde stukkend geslaan en vir Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.Die priester Jojada het wagte oor die tempel van die Here aangestel.

19. Daarna het die bevelvoerders oor honderd van die Kariërs en die hardlopers, asook al die burgers van die land die koning uit die tempel van die Here begelei. Hulle het deur die Wagterspoort na die paleis toe gegaan en die koning het op die troon gaan sit.

20. Al die burgers van die land was bly en daar was vrede in die stad. So het dit gebeur dat Atalia by die koning se paleis doodgemaak is.

21. Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het.

2 Konings 11