2 Konings 11:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe Atalia, die ma van koning Ahasia van Juda, hoor dat haar seun dood is, het sy begin om die res van die koningsgeslag uit te wis.

2. Maar Jehoseba, dogter van koning Joram en suster van koning Ahasia, het Ahasia se jongste seun Joas stilletjies weggevat tussen die ander seuns van Ahasia wat doodgemaak sou word. Jehoseba het Joas saam met sy oppasser in ’n slaapkamer vir Atalia weggesteek. So het dit gebeur dat hy nie doodgemaak is nie.

3. Gedurende die ses jaar dat Atalia regeer het, is Joas en sy oppasser in die tempel van die Here weggesteek.

4. In die sewende jaar van Atalia se regering het die priester Jojada die bevelvoerders oor honderd van die Kariërs en die hardlopers na hom toe laat kom in die tempel van die Here. Hy het met hulle ’n ooreenkoms aangegaan en hulle ’n eed in die tempel van die Here laat aflê. Daarna het hy die koning se seun aan hulle gewys.

5. Jojada het hulle beveel: “Julle moet soos volg te werk gaan: ’n Derde van julle wat op die Sabbat aan diens is, moet die koninklike paleis bewaak.

6. Nog ’n derde van julle moet by die Surpoort wagstaan. Die laaste derde moet by die poort agter die hardlopers wagstaan. Al drie afdelings moet om die beurt die paleis bewaak.

7. Die twee ander eenhede wat op die Sabbat van diens af gaan, moet wagstaan by die koning in die tempel van die Here.

8. Vorm ’n lyfwag vir die koning en hou julle wapens gereed. Enige persoon wat deur julle geledere wil kom, moet doodgemaak word. Bly die hele tyd by die koning.”

9. Die bevelvoerders oor honderd het presies so gemaak soos die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manskappe geneem, dié wat daardie Sabbat vir diens aangemeld het, asook dié wat van diens af gegaan het. Hulle het almal na die priester Jojada toe gekom.

10. Hy het hulle toegerus met spiese en skilde wat in die tempel van die Here bewaar is en nog aan koning Dawid behoort het.

11. Die hardlopers het rondom die koning gaan staan, gereed met hulle wapens. Hulle het gestaan vanaf die suidelike kant van die tempel óm na die noordelike kant toe en rondom die altaar.

12. Toe bring Jojada die seun van die koning na vore en sit die kroon op sy kop. Hy gee vir Joas ’n afskrif van die Here se vereistes en verklaar hom tot koning. Hulle het hom gesalf en almal het hande geklap en uitgeroep: “Lank lewe die koning!”

13. Atalia het die lawaai van die hardlopers en die volk gehoor en na die mense by die tempel van die Here toe gegaan.

2 Konings 11