4. “Watter soort skuldoffer moet ons stuur?” vra die Filistyne.“Aangesien die plaag julle en julle vyf heersers getref het,” antwoord hulle, “moet julle vyf goue swere en vyf goue muise maak, net soos dié wat julle land laat swaarkry het.
5. Sodoende sal julle eer betoon aan die God van Israel. Dalk sal Hy dan ophou om julle, julle gode en julle land te teister.
6. Moenie hardkoppig en opstandig wees soos die farao en die Egiptenaars was nie. Hulle wou Israel nie toelaat om te gaan nie totdat God hulle met verskriklike plae getref het.
7. “Bou nou ’n nuwe wa en kry twee koeie wat pas gekalf het en nog nooit ingespan is nie. Span die koeie in, maar hou hulle kalwers op hok.
8. Sit die ark van die Here op die wa. Julle moet die goue muise en swere in ’n houer sit en dit langs die ark op die wa laai. Dan moet julle die koeie toelaat om te gaan waar hulle wil.
9. As hulle oor ons land se grens gaan in die rigting van Bet-Semes, sal ons weet dit was die Here wat hierdie groot ramp oor ons gebring het. As hulle nie soontoe gaan nie, sal ons weet dat die plaag blote toeval was en dat dit glad nie die Here was wat dit gestuur het nie.”
10. Hierdie voorskrifte is uitgevoer. Twee koeie met pasgebore kalwers is voor die wa ingespan en hulle kalwers is op hok gesit.
11. Die ark van die Here en die kis met die goue muise en swere is op die wa gelaai.
12. En sowaar, daar gaan die koeie reguit met die pad na Bet-Semes toe terwyl hulle loop en bulk! Die Filistynse heersers het hulle tot by die grens by Bet-Semes gevolg.
13. Die inwoners van Bet-Semes was besig om koring in die vallei te oes. Toe hulle die ark sien, het hulle gejuig.
14. Die wa het tot by die landerye van ’n man met die naam Josua gekom en by ’n groot rots gaan staan. Toe kap die mense die wa stukkend vir vuurmaakhout, slag die koeie en offer dit as ’n brandoffer vir die Here.
15. ’n Aantal manne uit die stam van Levi het die ark van die Here en die kis met goue muise en swere van die wa afgelaai en dit op die rots neergesit. Die mense van Bet-Semes het daardie dag baie brandoffers en ander offers vir die Here geoffer.
16. Die vyf Filistynse heersers het gesien wat gebeur het en het nog dieselfde dag na Ekron toe teruggegaan.
17. Die vyf swere wat die Filistyne as ’n skuldoffer aan die Here gestuur het, was geskenke van elkeen van die heersers van Asdod, Gasa, Askelon, Gat en Ekron.
18. Die goue muise het die vyf Filistynse stede en die omliggende dorpe waar die vyf heersers gesag uitgeoefen het, verteenwoordig. Die groot rots by Bet-Semes waarop hulle die ark van die Here neergesit het, is vandag nog te sien in die landerye van Josua as ’n herinnering aan wat daar gebeur het.