7. Ek het gehoor die skeerders is besig om by jou te skeer. Toe jou veewagters by ons was naby Karmel, het ons hulle nooit skade aangedoen nie, en niks is ooit van hulle gesteel nie.
8. Vra maar jou wagters uit, en hulle sal dit as die waarheid bevestig. Daarom, wees asseblief vriendelik teenoor my mense. Kyk! Ons het juis tydens die feesvierings gekom. Gee ons asseblief enigiets wat jy beskikbaar het vir ons en jou vriend Dawid.’”
9. Dawid se jong manne het hierdie boodskap net so aan Nabal oorgedra en op sy antwoord gewag.
10. “Wie is dié man Dawid nogal?” antwoord hy minagtend. “Wie dink hierdie seun van Isai is hy? Daar is deesdae baie slawe wat van hulle meesters af wegloop.
11. Moet ek my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit net so gee vir mense wat van wie weet waar af kom?”
12. Dawid se boodskappers het omgedraai en teruggegaan. Hulle het vir Dawid alles vertel wat Nabal gesê het.
13. “Maak vas julle swaarde!” beveel Dawid terwyl hy sy eie swaard vasbind. Ongeveer 400 man het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om hulle besittings op te pas.
14. Intussen het een van Nabal se veewagters na Abigajil gegaan en vir haar vertel: “Dawid het manne uit die woestyn gestuur om ons meester te groet, maar hy het hulle beledig.
15. Tog was Dawid se manskappe baie goed vir ons. Die hele tyd dat hulle by ons in die veld rondgetrek het, het hulle ons nooit skade berokken nie en is niks van ons gesteel nie.
16. Trouens, hulle was dag en nag soos ’n muur van beskerming om ons en die skape.
17. Nou moet u asseblief vinnig ’n plan maak, want hy sal sekerlik ons meester en sy hele familie daaroor straf. Ons meester is so opvlieënd dat niemand eers met hom daaroor kan praat nie!”
18. Abigajil het dadelik 200 brode bymekaargekry, en ook twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf houers gebraaide koring, 100 trosse rosyntjies en 200 vyekoeke. Sy het dit op donkies laat laai
19. en vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit, en ek sal agterna kom.” Aan haar man het sy egter absoluut niks hiervan gesê nie.