35. Dawid aanvaar toe haar geskenke en sê vir haar: “Gaan gerus in vrede huis toe. Ek het na jou versoek geluister. Ek sal nie jou man doodmaak nie.”
36. Toe Abigajil by haar huis terugkom, was Nabal besig met ’n groot onthaal en het hy soos ’n koning feesgevier. Omdat hy dronk was, het sy vir hom niks gesê voor die volgende oggend nie.
37. Eers die volgende oggend toe hy nugter was, het sy hom vertel wat gebeur het. Toe hy dit hoor, het hy ’n hartaanval gekry sodat hy verlam was.
38. Omtrent tien dae later het die Here hom weer getref en het hy gesterf.
39. Toe Dawid van Nabal se dood hoor, sê hy: “Prys die Here wat Nabal vergeld het vir die onreg teenoor my en my verhinder het om dit self te doen. Nabal het hierdie straf oor homself gebring.” Daarna het Dawid boodskappers na Abigajil toe gestuur en gevra dat sy met hom moes trou.
40. Die boodskappers het by Karmel aangekom en vir Abigajil gesê: “Dawid het ons gestuur om te vra of jy met hom sal trou.”