28. Vergewe my asseblief as ek u aanstoot gegee het. Die Here sal u sekerlik beloon met ’n bestendige koningshuis, want u veg die Here se oorloë sonder om iets verkeerd te doen.
29. “Selfs wanneer iemand u agtervolg om u dood te maak, mag u lewe dan veilig wees in die bewaring van die Here u God! Maar mag Hy die lewens van u vyande weggooi soos klippe uit ’n slingervel!
30. “Wanneer die Here al die goeie dinge gedoen het wat Hy u beloof het en u leier van Israel gemaak het,
31. mag hierdie saak nie ’n klad op u naam wees en onskuldige bloedvergieting en wraak op u gewete gaan lê nie. En wanneer die Here hierdie groot dinge aan u gedoen het, onthou my dan asseblief!”
32. Dawid antwoord vir Abigajil: “Prys die Here, die God van Israel wat jou vandag na my toe gestuur het.
33. Geseënd is jy vir jou wyse optrede wat my verhinder het om bloed te vergiet en eiehandig wraak te neem.
34. Want so seker as die Here, die God van Israel leef, wat my weerhou het om jou kwaad aan te doen, as jy nie so gou na my toe gekom het nie, sou nie een van Nabal se manne teen môre-oggend nog gelewe het nie.”
35. Dawid aanvaar toe haar geskenke en sê vir haar: “Gaan gerus in vrede huis toe. Ek het na jou versoek geluister. Ek sal nie jou man doodmaak nie.”
36. Toe Abigajil by haar huis terugkom, was Nabal besig met ’n groot onthaal en het hy soos ’n koning feesgevier. Omdat hy dronk was, het sy vir hom niks gesê voor die volgende oggend nie.
37. Eers die volgende oggend toe hy nugter was, het sy hom vertel wat gebeur het. Toe hy dit hoor, het hy ’n hartaanval gekry sodat hy verlam was.
38. Omtrent tien dae later het die Here hom weer getref en het hy gesterf.
39. Toe Dawid van Nabal se dood hoor, sê hy: “Prys die Here wat Nabal vergeld het vir die onreg teenoor my en my verhinder het om dit self te doen. Nabal het hierdie straf oor homself gebring.” Daarna het Dawid boodskappers na Abigajil toe gestuur en gevra dat sy met hom moes trou.