20. Intussen het Saul se dogter Mikal op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, was hy in sy skik daarmee.
21. Saul het gedink: “Ek sal haar vir hom gee sodat ek deur haar vir hom ’n lokval kan stel. Die Filistyne sal ook teen hom wees.” Daarop sê Saul die tweede keer vir Dawid: “Jy kan my skoonseun wees!”
22. Saul sê toe vir sy amptenare: “Praat met Dawid en sê: ‘Die koning hou van jou en al die amptenare is geheg aan jou. Hoekom aanvaar jy nie die koning se aanbod om sy skoonseun te word nie?’”
23. Toe die amptenare so met Dawid praat, antwoord hy: “Dink julle dis so maklik om skoonseun van die koning te word? Ek is maar ’n arm man sonder aansien.”
24. Die amptenare van Saul het hom meegedeel wat Dawid gesê het.
25. Saul antwoord: “Sê vir Dawid: ‘As bruidsprys wil die koning niks anders hê nie as 100 voorhuide van die Filistyne. Eintlik soek ek maar net wraak op my vyande.’” In werklikheid het Saul gehoop die Filistyne sal Dawid doodmaak.
26. Die amptenare het dit vir Dawid vertel en hy het dit goedgevind om so skoonseun van die koning te word voordat die aanbod verstryk het.
27. Dawid en sy manskappe het uitgegaan en 200 Filistyne doodgemaak. Dawid het hulle voorhuide vir Saul gebring sodat hy skoonseun van die koning kon word. Saul het toe sy dogter Mikal vir hom as vrou gegee.
28. Saul het opgelet dat die Here met Dawid was en dat sy dogter Mikal hom liefhet.
29. Daarom het Saul nog banger vir Dawid geword. Saul was lewenslank Dawid se vyand.
30. Telkens wanneer die Filistynse heersers vir oorlog uitgetrek het, was Dawid meer suksesvol as enige van die ander bevelvoerders van Saul. So het hy baie aansien verwerf.