1 Kronieke 9:22-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Altesame was daar 212 poortwagters in daardie dae, en hulle name is almal in geslagsregisters in hulle dorpe opgeteken. Dawid en die siener Samuel het hulle voorouers aangestel omdat hulle betroubare manne was.

23. Hulle en hulle afstammelinge was verantwoordelik om die ingang na die huis van die Here te beskerm, die huis wat voorheen ’n tent was.

24. Die poortwagters moes aan al vier kante staan – oos, wes, noord en suid.

25. Hulle naasbestaandes het van tyd tot tyd uit die dorpies gekom om vir periodes van sewe dae hulle pligte te deel.

26. Die vier hoofdeurwagters, almal Leviete, het groot vertroue geniet, want hulle was verantwoordelik vir die skatkamers en skatte van die huis van God.

27. Hulle het in die nag rondom die huis van God gebly, want hulle moes dit beskerm. Dit was ook hulle werk om die ingange elke oggend oop te sluit.

28. Party van die hekwagters moes ook sorg vir die verskillende gereedskap wat in die tempel gebruik is. Hulle moes sorg dat dit uitgeneem en teruggebring word sonder dat iets verlore gaan.

29. Ander was verantwoordelik vir die meubels en al die heilige voorwerpe, ook die fynmeel, wyn, olie, wierook en speserye.

1 Kronieke 9