1 Konings 18:31-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. Hy het twaalf klippe gevat, een vir elke stam van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”

32. Hy het die klippe gebruik om die vervalle altaar van die Here reg te maak. Daarna grawe hy ’n sloot rondom die altaar. Dit was groot genoeg om ongeveer vyftien liter te hou.

33. Hy het hout op die altaar gesit, die bul in stukke gesny en dit op die hout neergelê.

34. Toe beveel hy: “Vat vier groot waterkruike, maak hulle vol water en gooi dit uit oor die offer en die hout.” Nadat hulle dit gedoen het, sê hy: “Doen dit weer!” Hulle maak toe so, maar hy sê: “Doen dit ’n derde keer!” Hulle het weer gemaak soos hy gesê het.

35. Die water het oor die altaar gestroom en selfs die sloot rondom vol water gemaak.

36. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia na die altaar toe gegaan en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, wys tog vandag dat U God is in Israel en dat ek u dienaar is wat alles op u bevel gedoen het.

37. Here, antwoord my! Antwoord my sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is en dat dit U is wat hulle weer na U toe laat omdraai.”

38. Onmiddellik het daar vuur van die Here gekom en die offer verbrand, asook die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgedroog!

39. Toe die volk dit sien, val hulle op die grond en roep uit: “Die Here is God! Die Here is God!”

40. Elia beveel hulle toe: “Gryp die profete van Baäl. Moenie dat ’n enkele een van hulle wegkom nie!” Die volk het hulle gegryp en Elia het hulle na die Kisonspruit laat afneem. Hy het hulle daar doodgemaak.

1 Konings 18