Yesha'yahu 41:1-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. “Luister in stilte na My, o kuslande en laat die volke nuwe krag kry; laat hulle vorentoe kom en laat hulle dan praat; laat ons saam kom vir oordeel.

2. Wie het een uit die ooste opgewek vir wie Hy in onpartydige opregtheid na Sy voete roep? Hy bevry nasies voor Hom en onderwerp konings. Hy maak hulle soos stof met Sy swaard, soos windgewaaide kaf met Sy boog.

3. Hy agtervolg hulle en maak dan vrede; Hy sal nie per voet daar verbygaan nie.

4. Wie het dit gedoen en bereik, die geslagte van die begin af geroep? ‘Ek, יהוה, is die Eerste en die Finale; Ek is Hy.’”

5. Die kuslande het gesien en is bang; die eindes van die aarde bewe; hulle het nader beweeg en gekom.

6. Elkeen het sy naaste gehelp en vir sy broer gesê: “Wees onveranderlik sterk!”

7. So het die ambagsman die smelter versterk, hy wat met die hamer plat slaan, hy wat op die aambeeld slaan terwyl hy van die soldering sê: “Dit is goed!” Hy maak dit met spykers vas sodat dit nie beweeg nie.

8. “Maar jy, Yisra’el, My dienskneg, Ya’akov, wat Ek gekies het, nageslag van Avraham, My vriend,

9. jy, wat Ek gevat het van die eindes van die aarde af en van sy verste dele geroep het en vir jou gesê het: ‘Jy is My dienskneg; Ek het jou gekies en jou nie verwerp nie;

10. moenie vrees nie, want Ek is by jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek sal jou versterk, sekerlik sal Ek jou help en jou ondersteun met My regverdige regterhand.’

11. Let op, almal wat kwaad is vir jou sal beskaamd staan en onteer word; hulle wat jou teëstaan sal soos niks wees en vergaan.

12. Jy sal hulle wat met jou stry soek, maar hulle nie kry nie, die wat teen jou oorlog voer sal wees soos niks en wat nie bestaan nie,

13. want Ek is יהוה, jou God, wat jou regterhand ophou, wat vir jou sê: ‘Moenie vrees nie, Ek sal jou help.’

14. Moenie vrees nie, wurmpie Ya’akov, manne van Yisra’el! Ék sal jou help,” verklaar יהוה “en jou Loskoper is die Afgesonderde Een van Yisra’el.

15. Let op, Ek het van jou ’n skerp, dorsslee gemaak met dubbel snykante; jy sal berge dors en fyn maal en die heuwels maak soos kaf.

16. Jy sal hulle uitwan en die wind sal hulle wegdra en die storm sal hulle verstrooi, maar jy sal in die rondte swaai van vreugde in יהוה, jy sal roem en eer in die Afgesonderde Een van Yisra’el.

17. Die geteisterdes en behoeftiges soek water, maar daar is niks nie en hulle tong verskroei van dors; Ek, יהוה, sal hulle self antwoord; as die God van Yisra’el, sal Ek hulle nie in die steek laat nie.

18. Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die valleie; Ek sal die wildernis ’n poel van water maak en die droë land fonteine van water.

19. Ek sal die seder in die wildernis sit, die akasia en die mirt en die olyfboom; Ek sal die jenewerboom in die woestyn plant saam met die palmhoutboom en die sipres

20. sodat hulle kan sien en herken, oorweeg en insig kry dat die hand van יהוה dit gedoen het en die Afgesonderde Een van Yisra’el dit geskep het.

Yesha'yahu 41