5. Hy sê vir die manne van Sukkot: “Gee asseblief brood vir die manne wat my volg, want hulle is moeg en ek is besig om Zevag en Tzalmuna, die konings van Midyan, te agtervolg.
6. Die leiers van Sukkot sê: “Is die hande van Zevag en Tzalmuna reeds in u hande dat ons aan u leër brood moet gee?”
7. Gid’on het gesê: “Goed, wanneer יהוה vir Zevag en Tzalmuna in my hand gee, dan sal ek julle liggame met woestyndorings en distels slaan.”
8. Hy het daarvandaan opgegaan na P’nu’el en dieselfde vir hulle gesê en die manne van P’nu’el het hom geantwoord net soos die manne van Sukkot geantwoord het.
9. Hy het ook met die mense van P’nu’el gepraat en gesê: “As ek veilig terugkom, sal ek hierdie toring afbreek.”
10. Nou, Zevag en Tzalmuna was in Karkor en hulle leërs by hulle, omtrent vyftien duisend man, al wat oor was van die hele leër van die seuns van die Ooste, want die gesneuweldes was honderd en twintig duisend swaard soldate.
11. Gid’on het opgegaan met die pad van die wat in tente bly, oos van Novag en Yogbehah en die kamp aangeval toe die kamp dit nie verwag het nie.
12. Toe Zevag en Tzalmuna vlug, het hy hulle agternagejaag en die twee konings van Midyan, Zevag en Tzalmuna, gevang en die hele leër uitmekaargejaag.
13. Toe het Gid’on, die seun van Yo’ash, by die opdraand na Heres teruggekom van die geveg af,
14. ’n jongman vanaf Sukkot gevang en hom uitgevra. Toe skryf die jongman vir hom die prinse van Sukkot en sy oudstes se name neer, sewe en sewentig man.
15. Hy kom by die mense van Sukkot en sê: “Let op, hier is Zevag en Tzalmuna oor wie julle my gespot het deur te sê: ‘Is die hande van Zevag en Tzalmuna reeds in u hand dat ons brood moet gee vir u manne wat moeg is.’”
16. Hy het die oudstes van die stad oor die woestyndorings en die distels getrek en so die manne van Sukkot gedissiplineer.
17. Hy het die toring van P’nu’el afgebreek en die manne van die stad doodgemaak.
18. Toe vra hy vir Zevag en Tzalmuna: “Watter manne was dit wat julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle antwoord: “Hulle was soos u, elkeen het gelyk soos die seun van ’n koning.”
19. Hy het gesê: “Dit was my broers, die seuns van my moeder. So waar as יהוה leef, as julle hulle net laat leef het, sou ek julle nie doodgemaak het nie.”