Rigters 6:17-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Gid’on sê vir Hom: “As ek nou guns in U oë gevind het, wys vir my ’n teken dat dit U is wat met my praat.

18. Gaan asseblief nie hiervandaan weg voordat ek by U kom en my offer uitbring en voor U neersit nie.” Hy sê: “Ek sal bly totdat jy terugkom.”

19. Toe het Gid’on ingegaan en ’n jong bokkie en ongesuurde brood, van ’n efa meel, voorberei; hy het die vleis in ’n mandjie en die sous in ’n pot gesit en hy het dit na Hom toe uitgebring onder die eikeboom en dit aangebied.

20. Die engel van God het vir hom gesê: “Vat die vleis en die ongesuurde brood en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous uit.” Hy het so gedoen.

21. Toe steek die engel van יהוה die punt van die staf, wat in Sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde brood aan en vuur spring op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde brood. Toe het die engel van יהוה verdwyn voor sy oë.

22. Toe Gid’on sien dat Hy die engel van יהוה was, sê hy: “Helaas, Meester יהוה, want nou het ek die engel van יהוה gesien van gesig tot gesig!”

23. יהוה sê vir hom: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir jou! Moenie vrees nie! Jy sal nie sterf nie.”

24. Toe bou Gid’on daar ’n altaar vir יהוה en noem dit: “יהוה is (Shalom) Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid!” Dit is vandag nog daar by `Ofrah van die Avi’ezriete.

25. In dieselfde nag het יהוה vir hom gesê: “Vat jou vader se jong bul en ’n tweede bul van sewe jaar oud en trek die altaar van Ba’al om wat aan jou vader behoort en kap die Asherah (afgesonderde paal) af wat langs dit is

26. en bou vir יהוה, jou God, ’n altaar bo-op die top van hierdie vesting op ’n ordelike wyse en vat die tweede bul en offer ’n brandoffer met die hout van die Asherah wat jy moet afkap.”

27. Toe het Gid’on tien man van sy diensknegte gevat en gedoen soos יהוה vir hom gesê het en omdat hy te bang was vir sy vader se huishouding en vir die manne van die stad, om dit in die dag te doen, het hy dit in die nag gedoen.

28. Toe die manne van die stad die oggend vroeg opstaan, let op, die altaar van Ba’al is omgegooi en die Asherah wat langs dit was, is afgekap en die tweede bul is geoffer op die altaar wat daar gebou is!

Rigters 6