12. Volgens die aantal wat julle voorberei, so moet julle doen by elkeen volgens die hoeveelheid.
13. Elke kind van die land moet hierdie dinge op hierdie manier doen, om ’n offer, deur vuur, met ’n aangename geur, aan יהוה te bring.
14. As ’n besoeker in die geslagte wat kom by julle bly, of hy wat onder julle is en ’n offer, deur vuur, met ’n aangename geur vir יהוה voorberei, moet hy net soos julle doen, so moet hy doen.
15. Een en dieselfde instelling geld vir julle in die vergadering en vir die besoeker wat by julle bly. Dit is ’n ewige instelling regdeur julle geslagte: soos dit vir julle is, so moet dit vir die besoeker voor יהוה wees.Yes 56:7; Hand 15:18-21; Rom 9:7,8; Rom 11; Efe 2:13-18
16. Daar moet een wet en een beslissing geld vir julle en vir die besoeker wat by julle bly.’”
17. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:
18. “Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Wanneer julle in die land kom waarheen Ek julle bring,
19. dan sal dit wees, wanneer julle die brood van die land eet, julle ’n opligoffer aan יהוה sal offer.
20. Julle moet ’n koek van die eerste deeg as ’n opligoffer bring; soos ’n opligoffer van die dorsvloer, so moet julle dit offer.
21. Van die eerste van julle deeg moet julle ’n opligoffer aan יהוה offer, regdeur al julle geslagte.
22. As julle onbepland oortree en nie al hierdie opdragte doen wat יהוה vir Moshe gesê het nie,
23. alles wat יהוה julle deur Moshe beveel het van die dag af dat יהוה opdrag gegee het en verder aan in julle geslagte,
24. dan moet dit wees, as dit onbewus gedoen is, sonder die wete van die vergadering, dat die hele vergadering een bul offer as ’n brandoffer, as ’n aangename geur tot יהוה, met die graanoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby hoort en een bokram as sondoffer.
25. So sal die priester toedekking doen vir die hele vergadering van die seuns van Yisra’el en dit sal hulle vergewe word, want dit was ’n fout en húlle het hul offer en hul sondoffer as ’n offer, deur vuur, tot יהוה geoffer, vir hulle onbeplande sonde.
26. Dit sal vir die hele vergadering van die seuns van Yisra’el, asook die besoeker wat tussen hulle bly, vergewe word, want al die mense het dit onbepland gedoen.
27. As ’n persoon onbepland sondig, moet dié ’n bokooi in haar eerste jaar as sondoffer bring.
28. So moet die priester dan toedekking doen vir die persoon wat onbepland sondig, wanneer hy onbepland sondig voor יהוה, om vir hom toedekking te doen en dit sal hom vergewe word.
29. Jy sal een wet hê vir die een wat onbepland sondig, vir die kind van die land onder die seuns van Yisra’el en die besoeker wat tussen hulle bly,
30. maar die persoon wat iets wetend doen, van die kinders van die land of van die besoeker, hy bespot יהוה en dié persoon moet afgesny word uit sy volk uit,
31. want hy het die woord van יהוה verwerp en Sy opdrag verbreek. Dié persoon moet volkome afgesny word; sy skuld sal op hom wees.’”