51. Onmiddellik het die gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo na onder, die aarde het gebewe, die rotse het oopgebreek,
52. die grafte het oopgegaan en baie liggame van die afgesonderdes, het opgestaan.
53. Hulle het weggegaan van die grafte af en ná Sy opstanding het hulle in die afgesonderde stad ingekom en aan baie verskyn.
54. Toe die hoofman oor ’n honderd en die wat saam met hom by Yeshua waggehou het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Waarlik, hierdie is die Seun van God.”
55. Daar was baie vroue wat van ver af gekyk het, wat vir Yeshua van die Galil af gevolg en Hom versorg het.
56. Tussen hulle was daar Miryam van Migdala en Miryam, die moeder van Ya’akov en Yosef en die moeder van die seuns van Zavdai.
57. Toe dit aand geword het, het daar ’n ryk man van Ramatayim gekom met die naam van Yosef, wat self ook ’n studentevolgeling van Yeshua was.
58. Hy het na Pilatos gegaan en die liggaam van Yeshua gevra en Pilatos het beveel dat die liggaam aan hom oorgegee moes word.
59. Yosef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai
60. en dit in sy nuwe graf gesit, wat hy in die rots uitgekap het, ’n groot steen teen die ingang van die graf gerol en weggegaan.
61. Miryam van Migdala en die ander Miryam was daar en hulle het oorkant die graf gesit.
62. Die volgende dag, ná die voorbereiding, gaan die leierpriesters en die Fariseërs saam na Pilatos
63. en sê: “Ons meester, ons onthou dat dié misleier, toe Hy gelewe het, gesê het: ‘Ek sal na drie dae opstaan’.”
64. “Gee dan bevel dat die graf bewaak word tot die derde dag toe dat Sy studentevolgelinge nie miskien in die nag kom, Hom steel en vir die mense sê Hy het opgestaan uit die dood uit nie, want die laaste misleiding sal erger wees as die eerste.”
65. Pilatos sê vir hulle: “Daar is vir julle wagte, gaan bewaak dit volgens wat julle verstaan”
66. en hulle het weggegaan om die graf te bewaak en saam met die wag ’n seël op die steen gesit.