34. Yeshua sê vir hom: “Dit is waar, Ek sê vir jou, in hierdie nag, sal jy My drie maal ontken voordat die haan sou kraai.”
35. Kefa sê vir Hom: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U nooit ontken nie!” Al die studentevolgelinge het ook so gesê.
36. Toe kom Yeshua saam met hulle in ’n plek genoem Gat-Sh’manim en Hy sê vir die studentevolgelinge: “Sit hier terwyl Ek gaan om te bid.”
37. Hy vat Kefa en die twee seuns van Zavdai saam en begin bedroef en benoud word.
38. Hy sê vir hulle: “My verstand, wil en emosie is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.”
39. Hy het ’n entjie onttrek en op Sy gesig geval en gebid en gesê: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
40. Hy gaan na die studentevolgelinge en vind hulle aan die slaap en Hy sê vir Kefa: “Kon julle nie een uur saam met My waak nie?
41. Waak en bid sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”
42. Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat dit wees soos U wil.”
43. Hy gaan na hulle toe en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar
44. en Hy het weer van hulle af weggegaan en vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê.
45. Toe kom Hy by Sy studentevolgelinge en sê vir hulle: “Slaap maar voort en word verfris. Let op, die uur is naby en die Seun van die mens word oorgegee in die hande van sondaars.
46. Staan op, laat ons gaan; let op, hy wat My oorlewer is hier.”
47. Terwyl Hy nog praat, kom Y’hudah, een van die twaalf vanaf die leierpriesters en oudstes van die volk af en saam met hom ’n groot skare met swaarde en stokke.
48. Die een wat Hom oorlewer, Y’hudah, het vir hulle ’n teken gegee en gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!”
49. Hy roep dadelik na Yeshua en sê: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, my Meester” en hy soen Hom,
50. maar Yeshua sê vir hom: “Het jy hiervoor gekom, My vriend?” Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Yeshua en gryp Hom
51. en een wat saam met Yeshua was, het sy hand uitgesteek, sy swaard uitgetrek en hy het die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy oor afgesny.
52. Toe sê Yeshua vir hom: “Sit jou swaard in sy plek terug, want almal wat die swaard optel, sal deur die swaard doodgemaak word.
53. Of dink jy nie dat Ek die vermoë het om op hierdie oomblik tot My Vader te bid en Hy meer as twaalf legioene van engele tot My beskikking sal stel nie?