Levitikus 14:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

2. “Dit is die wet vir die melaatse op die dag van sy reiniging: hy moet na die priester gebring word

3. en die priester moet uit die kamp uitgaan. Die priester moet die melaatse ondersoek en let op, as die melaatsheid op die melaatse genees is,

4. moet die priester bevel gee dat hulle vir hom wat gereinig word, twee lewende, rein voëls, sederhout, skarlaken en hisop moet bring.

5. Die priester moet ook bevel gee dat hulle die een voël in ’n erdepot oor lopende water doodmaak.

6. Die lewende voël moet hy vat, sowel as die sederhout, die skarlaken en die hisop en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat oor die lopende water geslag is.

7. Hy moet sewe maal sprinkel op hom wat van die melaatsheid gereinig word en hom rein verklaar en die lewende voël moet hy in die oop veld loslaat.

8. Hy wat gereinig word, moet sy klere was, al sy hare afskeer en homself in water was dat hy rein mag wees. Daarna moet hy in die kamp inkom, maar hy moet sewe dae lank buitekant sy tent bly.

9. Op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer, sy kop, sy baard en sy wenkbroue; al sy hare moet hy afskeer. Hy moet sy klere was en sy liggaam in water was en hy sal rein wees.

10. Op die agtste dag moet hy twee lammers sonder gebrek en een jaaroud ooilam sonder gebrek vat en drie tiendes van ’n efa fyn meel met olie gemeng as graanoffer en een log olie.

11. Die priester, wat hom rein verklaar, moet die man, wat gereinig word en al die offers voor die Teenwoordigheid van יהוה, by die ingang van die Tent van Ontmoeting, aanbied.

12. Die priester moet een lam vat en dit offer saam met die log olie as oortredingsoffer en dit as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה waai.

Levitikus 14