Genesis 6:9-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. Hierdie is die geskiedenis van Noag. Noag was in sy tyd ’n onskuldige, opregte man met integriteit. God was tevrede met Noag.

10. Noag was die vader van drie seuns: Shem, Gam en Yefet.

11. Die aarde was korrup voor God en die aarde was vol boosheid.

12. God het gesien dat die aarde korrup was, want alle vlees het hulle lewenswyse op die aarde korrup gemaak.

13. God sê daarom vir Noag: “Die einde van alle vlees het voor My gekom, want die aarde is deur hulle volgemaak met boosheid. Let op, Ek gaan hulle saam met die aarde vernietig.

14. Maak vir jou ’n ark van goferhout; jy moet die ark met kamers maak en dit binne en buite met pik toedek

15. en só moet jy dit maak: die lengte van die ark, drie honderd el; sy breedte, vyftig el en sy hoogte, dertig el.

16. Jy moet ’n opening maak vir die ark; jy moet dit ’n el van die bokant af afwerk en die deur van die ark aan die sykant sit. Jy moet dit met ’n onderste, tweede en derde verdieping maak.

17. Let op, Ék bring ’n vloed van water oor die aarde, om van onder die hemel alle vlees waarin ’n gees van lewe is, te vernietig. Alles wat op die aarde is, sal doodgaan.

18. Met jou sal Ek My verbond bevestig; jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou

19. en van al wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elk in die ark laat ingaan om dit saam met jou in die lewe te hou: hulle moet mannetjie en wyfie wees.

20. Vanuit die voëls, volgens hulle spesies, vanuit die vee, volgens hulle spesies, vanuit al die reptiele van die aarde, volgens hulle spesies; twee van elke spesie moet na jou toe kom om in die lewe te bly.

Genesis 6